Die Here het reeds in 1969 ‘n plan gehad om NG Gemeente Jeffreysbaai te plant in die Oos-Kaap. ‘n Gemeente wat golwe van liefde en lig vir ‘n wêreld in nood moet wees.
Heel aan die begin het die gemeente ‘n bruidskat (Kerksaal in Da Gama weg) ontvang, drie erwe wat geoormerk was vir die bou van ‘n ouetehuis en R6000 in kontant. Ds GCK le Roux is beroep vanaf Luckhoff en is as eerste predikant beroep en bevestig. Die gemeente se eerste eredienste was in die kerksaal gehou.
In 1994 brei die gemeente se bedieningsarea uit en word Paradysstrand ook by die gemeente ingelyf. Die eerste pastorie is in 1972 voltooi en die kerk in Da Gama weg word teen ’n koste van R140 000 gebou en op 17 Desember 1977 ingewy. Die orrel is van Frankfort gemeente oorgeneem.
Die gemeente het meer groei beleef en die bediening het verder uitgebrei. Die jeug kampterrein is in Maart 1980 gestig en so ook in November 1994 word Die Kompleks met ‘n 1200 sitplekke ingewy.
Deur hierdie gemeente het ‘n klein stroompie ontspring uit dié Bron wat lewe gee, hierdie stroom het verseker ‘n rivier geword.
Dié rivier het sterker, dieper en wyer geword en vandag is NG Gemeente Jeffreysbaai ‘n inklusiewe gemeente wat die gemeenskap van Jeffreysbaai vanuit 3 kampusse bedien. Hulle is, Kompleks-, Da Gama- en Paradysstrand Kampus.
Die gemeente het tans ongeveer ± 4800 belydende en ± 614 dooplidmate en word bedien deur vier voltydse leraars, twee pastorale leraars (herders) en ‘n jeugwerker. Tans is die gemeente se personeelspan 17 lede groot.
Ons bedienings werk stop nie net hier nie, maar gaan wyer na die omgewing van Jeffreysbaai, Transkei, Mosambiek, Indië en tot die uithoeke van hierdie wêreld.